Wednesday, September 30, 2009

Debbie Badenhorst deel van Primêr se span

- Delene Coetzee -

Prince Albert Primêr is in die gelukkige posisie dat die skool sedert 2008 ‘n leerderondersteunings opvoeder het wat spesifiek op agterstande in geletterdheid en gesyferdheid by leerders konsentreer. Delene Coetzee gee drie dae per week by Primêr en twee dae per week by Hoërskool Zwartberg klas. Daar is egter nog baie leerders wat intensiewe hulp nodig het.

Nadat ons hoof, John Steyn, herhaaldelike versoeke aan die departement gerig het vir ‘n eenheidspos, het mnr FM Tallie van die Onderwysbestuurs-en-ontwikkelingsentrum op George dit uiteindelik reggekry om so ‘n eenheid aan Primêr toe te ken.

Nou kan daar meer daadwerklik aan kinders met kognitiewe agterstande se behoeftes voorsien word en kry hulle weer individuele aandag in ‘n goed toegeruste klas. Dit is ‘n gerusstellende wete vir ouers dat hul kinders nie meer op ‘n jong ouderdom na ‘n vaardigheidskool op Oudtshoorn gestuur hoef te word nie, maar wel tuis hierdie spesiale onderrig kan ontvang.

Debbie Badenhorst is aangestel as eenheidsopvoeder en met haar baie jare ondervinding in soortgelyke poste, weet ons dat sy ‘n groot aanwins vir Prince Albert Primêr sal wees.

Na vier jaar se betrokkenheid by die Fransie Pienaar Museum kan Debbie haarself weer uitleef in ‘n klas vol kinders – haar eerste liefde. Ons wens haar alle sukses toe!

No comments: