Wednesday, September 30, 2009

Outa Lappies gee “notice”

- Denise Ohlson -

In November,” sê Jan Schoeman - in elke hoek van Prince Albert en sommer al om die wêreld bekend as Outa Lappies - hou ek ‘n uitverkoping. Die opbrengs is vir ‘n trust vir my oudag.”

Nie dat hy presies weet wanneer hy “oud” gaan wees nie. Mense het al van die kant en daai kant opgedaag vir ‘n begrafnis, maar dan maak hy nog hout in die bos, en dan vertrek hulle ewe vies oor al die “verniet moeite”. Maar diegene wat wil graf toe kom vir die “valse verleiding” van ‘n erfporsie, moet maar weet sy hele boedel “gaan terug na die natuur” toe.

Wat hy wil agterlaat, is ‘n paar lewenslesse. Dat kinders besef dat jy net op die windpomp se platform kan sit en die wêreld aan jou voete kan hê as jy die sporte een vir een geklim het. Dat elke mens sy eie besluite kan neem en dat vryheid die waardevolste skat is wat jy ooit kan besit. Dat goeie maniere die beste en mooiste geskenk is wat jy ooit kan gee. Dat sonneblomme jou lewe verhelder, dat boontjies en mielies goeie kos is wat in enige tuin groei, en dat iets uit niets jou ‘n ryk mens maak.
Op 16 September het hy vir Byron Lodewyk en Winnefred Skaarnek beloon vir hul poging om hom te “beskryf” deur elkeen een van sy kenmerkende blikwerke te gee.

As hulle verstandig is, sal hulle hierdie handjie en arend goed bewaar, want in Outa se besit is ‘n argief briewe en artikels wat sy lewensfilosofie en handewerk besing.

In haar eie handskrif skryf Cherie Blair onder die wapen van Downingstraat 10: “Thank you for the wonderful piece of art – keep up the good work.” Daar is vele begeesterde briewe, soos die een van Paul de Vrees uit Amsterdam oor sy “heel bijzonder bezoek” aan die lappiesman en indrukwekkende foto-artikels, selfs in Duits en Deens…

Op die oomblik is daar ‘n hartlike uitnodiging na Akra in Ghana, maar Outa reken die mense moet hom nou sy vrede gun sodat hy sy “laaste dae op hierdie aarde” kan deurbring sonder om ooit weer so ver te reis soos in die dae toe hy sy string ligwaentjies agter hom aangetrek het op sy omswerwinge deur die wye Karoo.

Hierdie wyse man met sy rare insigte in die mensheid, is al afgemaak as aarts-kommunis, mal aktivis, dwarstrekker en moeilikheidsoeker… Maar hy het nog altyd net volgens sy eie unieke filosofie gelewe, en nou wil hy net in vrede “notice” gee wanneer die tyd aanbreek.

No comments: