Wednesday, September 30, 2009

Gesinsgeweld: SAPD loods bewusmakingsveldtog

- Linda Jaquet -

Vanaf 12 tot 15 Oktober gaan die SAPDleiding van Inspekteur Eddie Hattingh ‘n bewusmakingsveldtog oor gesinsgeweld begin.

In samewerking met BADISA, die Prince Albert Vroueforum, die SAPD se Gesinsgeweld, Kindermishandeling en Seksuelegeweld eenheid in Beaufort-Wes, gaan hulle van deur-tot-deur gaan om almal in ons gemeenskap in te lig oor die kommerwekkende euwel van gesinsgeweld wat besig is om hand uit te ruk in ons dorp. Daar sal ook spesifiek aandag gegee word aan lede van die gemeenskap wat al voorheen slagoffers van gesinsgeweld was.

Die SAPD se eie Vroue Netwerk en die beraders van die Slagofferondersteuningsgroep sal ook deel neem. Inspekteur Hattingh is dit eens dat alles moontlik gedoen moet word om veral die weerloses soos vroue en bejaardes te bemagtig deur aan hulle hul regteverduidelik Kennis is mag en hulleweet wat hul te doen staan indien hul die slagoffers van geweld sou wees.

Dikwels is die slagoffers so getraumatiseerd dat hulle nie daaraan dinkvir hulp te vra nie. Inspekteur Hattingh wil hê dat die slagoffers moet weet dat hulle regte het en dat die polisie hulle sal help. Ook moet die geweldadigers weet dat die polisie nie met hulle gaan speel nie en dat regstappe geneem sal word.

Die veldtog sal op 15 Oktober om 18h00 by die Sydwell Williams Sentrum afsluit deur ‘n vergardering waartydens die Staatsaanklaer, Waomi MacClune, aan die gehoor sal verduidelik hoe om ‘n interdik te kry en hoe die regsproses sal verloop.

Insp Hattingh nooi almal uit om die aand te ondersteun: “Ons hoop van harte dat almal die geleentheid sal bywoon, nie net om inligting te verkry nie, maar ook om ondersteuning te wys aan die lede van ons gemeenskap wat as gevolg van ekonomiese of emosionele afhanklikheid dit moeilik vind om los te breek uit die kringloop van geweld.”

Hattingh verduidelik verder: “Ons kan nie die probleem van geweld oplos sonder om te kyk na drankmisbruik nie, want die twee probleme loop gewoonlik hand-aan-hand. Dit is ‘n skreiende skande dat die “Allpay” geld van kinders en bejaardes gebruik word om drank mee te koop, in plaas daarvan om die geld aan te wend vir kos en ander behoeftesen dat dit dan juis hulle is wat onder die geweld deurloop.”

No comments: