Wednesday, September 30, 2009

Ina Paarman se geure trek sterk deur ons dorp

- Diana Koorts -

Hoërskool Zwartberg wil weereens BAIE dankie sê vir een en almal se goeie ondersteuning met die aankope van Ina Paarman speserye. Ons leerders het werklik baie fluks verkoop en het ’n baie goeie bedrag ingesamel. Die totale verkope behels R28 276,50 die meeste ooit! Daarvan ontvang die skool ‘n volle R7069,13.

Ons is so bly almal besef dat hul werklik goeie waarde vir hul geld ontvang – aangesien hierdie produkte GEEN MSG, kleurmiddels of preserveermiddels bevat nie. Gesondheid is gelukkig deesdae vir almal belangrik.

Die leerders het regtig skouer aan die wiel gesit en groot bedrae geld se speserye verkoop. Siemon Joubert – Gr.2 - was ons topverkoper met R1051,50, Jana Koorts – Gr.1 was 2de met R989,80 en Shaun van Zyl Gr.3 was 3de met R863,70. Daar was nog 10 leerders wat meer as R600 se produkte verkoop het terwyl Hentie du Plessis, Awie Kellerman en Driekus Marais aan die meeste persone produkte verkoop het. Die Graad 6-klas het baie ywerig verkoop en het die rekordbedrag van R4473,20 verkoop .

Baie geluk aan al die verkopers en weereens ’n groot dankie vir almal se ondersteuning.

’n Groot dankie ook aan al die besighede wat so ruimhartig pryse geskenk het sodat ons al die vlytige verkopers kon beloon.

Koggelmander het ons 3 top verkopers geborg en die volgende besighede het ook ruim bygedra : Prickly Pear, Wimpels , Lazy Lizard , Lah –Di –Dah, Konings, Swartberg Slaghuis, Karoo Slaghuis, Omkom Stoor, Home and Hardware, OK Grocer, Prins-Kem en Prins Albert Motors. Baie, baie dankie!

No comments: