Wednesday, September 30, 2009

Ngunivelle, leerskoene, sterre en webwerwe

- Denise Ohlson -

n Kêrel wat eerder doen as praat, is die veelsydige Kerneels Mulder. Op die ouderdom van 27 is hy al vyf jaar lank eienaar van sy eie besigheid, het hy ‘n Nasionale Diploma in Inligtingstegnologie deur Unisa voltooi, is hy lid van die Astronomie Assosiasie van Suid-Afrika en die geregistreerde eienaar van www.spacewallpapers.net – waar daar tot 80,000 mense per maand kom kyk na die ruimtefotografie wat hy saamgestel het.

Tydens sy studie het hy webwerwe gebou vir praktiese take, en so het ‘n stokperdjie ontstaan wat ‘n groot hupstoot gekry het toe sy Space wallpaper webwerf op BBC World se program “Click Online” genoem is. Nou kan hy enigeen help met die bou en instandhouding van ‘n webwerf.

En dan is hy ook nog die redaksielid wat agt jaar lank al maand vir maand swoeg en bloed sweet om die blad-uitleg en advertensieontwerp van die Prince Albert Vriend betyds in plek te kry sodat die koerant elke laaste Vrydag van die maand kan verskyn.

In sy winkel oorkant die hotel, die Tanner and Leather Trader, staan Kerneels reg as jy Green Cross skoene of ‘n egte leerhoed wil aanpas, ‘n lieflike Ngunivel of skaapvelpantoffels wil koop, ‘n band, beursie of selfs ‘n ordentlike vlieëplak wil aanskaf.

As jy ‘n afspraak wil maak om saam met hom sterre te gaan kyk, deel hy graag sy kennis. Kerneels sê Prince Albert se nagdonkerte is net so belangrik soos ons historiese geboue en natuurskoon as dit kom by eko-toerisme.

Sterrekykers uit Europa staan oorweldig voor die feit dat hulle die melkweg so pragtig en duidelik vanuit sy dorpsagterplaas kan sien. Hy reken die munisipaliteit, besighede en ook private persone sal wys wees om oordadige geel ligte te vermy, en alle buiteligte met ‘n bo-skerm te bedek sodat lig afwaarts skyn en ons dorp se ligbesoedeling beperk word. So sal Prince Albert al meer bekend word as ‘n plek waar toeriste na die nebulas in Orion, die ringe om Saturnus en die stormbande op Jupiter kan kom kyk.

“As jong seun het ek al op my rug op die gras gelê en kyk na die sterrebeelde. En gewonder: Hei, wat gaan alles daar bo aan? As ek vandag deur my gerekenariseerde 8” SCT kyk na Omega Centauri se miljoene sterre - so 15,800 ligjaar weg – vervul dit my met oneindige verwondering. Sterrestof is in my asem en my bloed.”

So sê Kerneels Mulder, jongste van vyf kinders uit ‘n polisiefamilie. Sy pa was jare lank polisiehoof in Prince Albert, sy broer Francois is tans inspekteur hier en sy suster Juliana is hoof van finansies – en, soos sy ander twee susters ook met ‘n polisieman getroud!

No comments: