Wednesday, September 30, 2009

Nuwe fokus op MIV/VIGS in Prince Albert

Dit is weer Oktober maand, ‘n nuwe seisoen wat aangebreek het. Nuwe verwagtinge word geskep in Prince Albert. Nuwe uitdagings wat ontstaan veral met die probleem wat ons gemeenskap beinvloed soos bv armoede, tienerswangerskap, resessie, mishandeling, dwelmmisbruik, kindermishandeling, tekorte aan klinieke en konfidensialiteit, pessimistiese houdinge wat kwelpunte is, maar daar is hoop, hoop wat nuwe moed en ywer bewerkstellig.

MTC (Media & Training Centre for Health) is ‘n projek wat tydens September deur die Prince Albert Advies Kantoor (PAAK) geloods is en wat oor die volgende elf maande sal strek. Hierdie projek fokus op die gemeenskap en die klem val op MIV/VIGS wat hand aan hand loop met al die probleme wat in Prince Albert die gemeenskap affekteer en die gemeenskap tot op hede na antwoorde laat soek. Die projek konsentreer direk op die gemeenskap en die bewusmaking om op te tree en nie net te praat van MIV/VIGS nie.

Die projek is in 12 programme opgedeel wat beteken 12 temas gaan behandel word. September maand was daar op mishandeling van vrouens gefokus. Vrouens is ‘n baie belangrike anker in ons lewens. ‘n Vrou is ‘n moeder, dogter, suster, vriend, berader, verpleegster, matrone, huisvrou en ‘n kuis vir haar man. Maar vrouens word mishandel, misbruik en geviktimiseer en dit hou mishandeling teen vrouens lewendig. Daarom word daar gevra dat die gemeenskap moet optree en die stilte breek om huishoudelike geweld stop te sit. Ons het mense nodig om te praat en nie stil te bly oor hierdie mishandeling wat in ons gemeenskap voorkom nie. Dit is ons gemeenskap se verantwoordlikheid om ‘n gesonde en veilige omgewing te bou.

In Oktober val die fokuspunt op behandeling en ondersteuning aan MIV-positiewe persone. Behandeling en ondersteuning speeel ‘n baie belangrike rol in die gemeenskap wanneer daar direk gefokus word op MIV positiewe persone. In Prince Albert ervaar ons nog altyd mense wat diskrimineer en stigmatiseer teenoor mense wat MIV positief is. Die gemeenskap en selfs familie lede aanvaar nie die mense wat MIV positief is nie. Familie lede gee nie die nodige ondersteuning nie en dit het die neiging om op die strate verkondig te word dat mense MIV positief is. Dit het as gevolg van negatiewe uitlatings ‘n effek dat baie mense wat worstel met die besluit om hulle te toets vir MIV, beïnvloed word. Dit maak ook die risiko groter vir mense wat MIV positief is en nie weet daarvan nie, om ander persone te infekteer en sodoende die kringloop wat daarmee gepaard gaan lewendig te hou.

Prince Albert toon steeds ‘n opwaartse kurwe in MIV positiewe gevalle, maar dit gee ons nie die reg om te stereotipeer, diskrimineer en te stigmatiseer nie. Die hospitaal en die klinieke kan nie alleen die verantwoordelikheid neem om mense wat MIV positief is te ondersteun en te behandel soos ons konstitusie dit voorskryf nie. Die gemeenskap dra ook daardie verantwoordelikheid. Kom ons tree op teen stigmatiseering en diskriminering. Kom ons oordeel nie mense nie en ons vat hande en maak Prince Albert die ideale plek om openlik en vrymoeding na mekaar uit te kan reik. Kom ons word deel van ‘n opbouende gemeenskap.

Kom ons vat hande en maak ‘n verskil saam met hierdie projek. Onthou dit is jou liggaam en as jou liggaam verniel word, word jou hele lewe verniel. Ons bou aan ‘n toekoms vir ons nageslagte en ons kan dit vir hulle makliker maak.

Temas vir die volgende drie maande.

Oktober:
Behandeling en Ondersteuning
November:
Staat en Institusie
Desember:
Wêreld Vigs Dag en mense regte

Ferdi Willemse
Community Caregiver
(023) 5411 722/ 076 3366 898

No comments: