Wednesday, September 30, 2009

Gideon Botes sterf op 80

- Denise Ohlson -

Gebore op 14 Januarie 1929 as die tweede oudste van tien kinders, word Gideon Christoffel Botes groot op die plaas Vergenoeg in die Weltevredevallei. Hy gaan eers plaasskool toe en daarna is Prince Albert se dorpskool sy voorland. Hy slaag standerd 8 en verruil die Vallei vir die stad om by die Spoorweë as kelner te gaan werk. “Maar sy liefde vir boeke,” vertel sy broer Jan, “lei hom na CNA en later vind hy sy nis by Nasionale Boekhandel in die Kaap.”

Vir hierdie broer van hom was ‘n boek “soos ‘n diamant” en met sy waardering vir boeke kon hy vir hom ‘n loopbaan in die uitgewersbedryf uitbeitel. Tot op 75 jarige ouderdom, en sy noodgedwonge aftrede, het hy vir Nasou Uitgewers gewerk.

Beatrice Smit, die Kaapse meisie met wie hy getrou en saam twee kinders grootgemaak het, is dertig jaar gelede al oorlede, maar Gideon het nooit weer getrou nie.

Twee jaar gelede het hy in Prince Albert kom bly as inwoner van Huis Kweekvallei. Al het hy ‘n hartomleiding en twee rugoperasies agter die rug gehad en boonop een been afgestaan aan gangreen, het hy nie gemurmureer nie. Ook toe hy sy ander been verloor het en in ‘n rolstoel moes regkom, was kla nie ‘n opsie nie. Hy was dankbaar vir die vryheid en selfstandigheid wat die elektriese stoel hom gegee het en hy het graag in die strate rondgery – soms tot verontwaardigde ontsteltenis van die personeel. Hy was ‘n gesellige man, gou met ‘n glimlag en met ‘n goeie verstand. Hy het graag met ‘n stout vonkel in die oog vertel hoe “poeliesieman Moolman” hom gewaarsku het dat hy “reflectors” sal moet kry, anders gaan hulle hom “skryf”.

“Op skool,” vertel sy broer Jan, “was sy bynaam A1. Al ons huiswerkboeke moes altyd oorgetrek wees – al was dit dan ook met koerantpapier. So moes Gideon op ‘n dag ‘n opstel skryf, en gou besef hy dat die koerantstorie op die agterkant van sy boek handig te pas kom by die onderwerp. Sy onderwyseres was besonder ingenome met sy poging. ‘Pragtig, het sy hom geprys, sommer A One!’ En so was die koeël deur die kerk en die bynaam het bly steek...”

Hierdie seun van Matthys en Maria (Miem) Botes was trots daarop dat sy pa bekend was as die “koning van die Weltevredevallei” in die dae toe hul plaas nog wyd en ver gestrek het en luiperds nog volop in die klowe was. Die heerlike nartjies, vye en lemoene was toe al “uitvoerprodukte” en die skape was gesond en vet. Hy het later wel ‘n deel van die oorspronklike plaas teruggekoop en daar gaan woon na sy aftrede, maar die plaaslewe was nie meer dieselfde nie en die eensaamheid het hom gevang. Hy het die grond verkoop en na so twee jaar se verblyf by sy kinders in die Kaap en Gauteng, maar weer die Karoolug kom opsoek.

Vandag is net twee van die vyf oorblywende broers nog Botesse wat as grondbesitters kan “koning kraai” in die Weltevredevallei.

Gideon Botes is op 13 Augustus vanuit Huis Kweekvallei begrawe en die diens is gelei deur ds Chris Briers. Hy word oorleef deur sy kinders Marietjie en Matthys, en vyf kleinkinders.

No comments: