Wednesday, September 30, 2009

Sterre Kyk

- Dirk Visser -

Op Vrydag die 11de September is Prince Albert Primêr se personeel Sutherland toe om te gaan sterre kyk by die observatorium. Die geleendheid is ook gebruik om as ‘n spanbou-sessie te dien.

Agv Sutherland se reputasie as een van die koudste plekke in ons land is die bus tjok-en-blok vol komberse en slaapsakke gelaai. Die rit tot by Sutherland het vlot verloop en dit was reeds duidelik dat hierdie spanbousessie baie geslaagd sou wees. Ons het so teen 17h00 in Sutherland gearriveer en ens geskop in Sutherland Hoërskool se koshuis. Dit is nou werklik ‘n interessante dorpie met hope karakter.

Die mans het dadelik weggespring met die vuur en die dames het die slaaie aanmekaar geslaan. Ons eerste uitstappie het omstreeks 20h30 begin by die sterrewag. Die ete moes natuurlik wag tot ons terugkeer.

Die observatorium is so 29km buite die dorp. Met die kwik wat reeds naby vriespunt gedraai het, het ons die duister aangedurf met ons vriendelike toergids. Dit was werklikwaar nie eers nodig vir die groot teleskope nie aangesien die sterre so onwerklik groot die hemelruim omspan. Jy kan dit as te ware nie beskryf nie maar moet dit self ervaar. Die gids het ook baie interessante inligting met ons meegedeel. Ons is almal gereed om ons leerders meer oor astronomie te leer. Die belangrikste ding was egter dat ons almal besef het hoe nietig ons is en hoe groot die skepping is.

Na die uitstappie is ons terug om te gaan eet maar dit was egter net die aanvang van die gesellighede aangesien ‘n potjie begin is. Daar is tot laatnag gesels en al die daaglikse uitdagings van die onderwys is vir ‘n wyle eenkant geskuif.

Ons is Sondag vroeg uit die vere vir nog ‘n begeleidige toer. Van die mans het gebrom omdat hulle kwansuis die rugby sou mis, maar die uitstappie na die groot teleskope was ongelooflik.

Ons was baie bevoorreg om die SALT (South African Large Telescope) te sien. Die teleskoop is so sterk dat dit selfs ‘n kers se lig op die maan sou kon waarneem!

Dit rit terug was weereens baie voorspoedig en baie van die personeel stem saam dat ons dalk nog ‘n dag kon gebly het. Dit is regtig die moeite werd om Sutherland te besoek en ek glo dat elke lid van Prince Albert Primêr se personeel werklik verryk is deur hierdie ongelooflike uitstappie.

No comments: